SARIE is die voorkeur-glanstydskrif van die Afrikaanssprekende vrou van Suid-Afrika met ‘n moderne wêreldbeskouiing. SARIE is ‘n intieme deel van haar lewe en ‘n ware voortsetting van haar leefstyl. Maand ná maand vertel die tydskrif tipies Suid-Afrikaanse stories wat haar altyd goed laat voel oor haarself en haar wêreld. Dis na SARIE dat sy haar wend vir kernoplossings en vertroude geselsies. Dis waar sy haar spesiale inspirasie vind.
Van die redakteur
TRENDS 2025/26 NUUT & NOU • 7 trends wat vorm en styl aan ons huise gee, en vandag ons wêreld inkleur. Party ken jy, ander is daar om joune te maak
Buitengewoon mooi • ’n Skatkis vol kleur met kuns en handwerk van oral, hoofsaaklik uit Afrika, is dié huis aan die rand van die Kaapse middestad. Die welige tuin en elke vertrek vertel die storie van die uitsonderlike reise en skeppings van die kunstenaar-versamelaar wat hier woon
+ DIE VOORKOMS • Vul jou huis met kleurryke plaaslik vervaardigde items en meubels om dit uniek en tipies Afrika te maak. Fyn draadwerk, tradisionele komberse en pottebakkers se skeppings soos borde en potte pas hierby
Betowering in die stad • Die gedempte glans, eindelose volumes en monochroom palet van hierdie kothuis in Parktown-Noord in Johannesburg voer jou na ’n ander wêreld. Om te dink ’n ou deur was waar alles begin het
+ DIE VOORKOMS • As jy hou van ’n dramatiese atmosfeer, kies items soos ’n oorgroot kristalkandelaar, fluweelmeubels en ornamente met glans soos koperkleurige kersblakers
Houthuisie by die see • Nader aan die water kan jy sekerlik nie kom as dié bekoorlike huis by Churchhaven langs die Langebaan-lagune nie. Karaktervol en knus, met stylvolle eenvoud in ’n strandpalet van wit en blou
+ DIE VOORKOMS • Die vlootvoorkoms is nie net vir ’n plekkie by die see nie – wit, blou en rooi is ’n klassieke kombinasie wat in alle huise mooi lyk. Swart metaaldetail soos die muurlig anker die voorkoms
Herdershut herleef • Die pad kronkel deur die groen fynbos van die Swartberge naby Prins Albert tot by die subtiel versteekte huis met sy roesbruin mure soos die aarde. Die boustyl ’n ontmoeting tussen Afrika, Mexiko en Mediterreens, die dekor eklekties Karoo-styl
+ DIE VOORKOMS • Karoo tot Mexikaans, kleure soos oker en klei skep ’n aardse gevoel. Met natuurlike stowwe soos hout, rottang en riet gekombineer met Afrikamotiewe wat in pas is met die styl
Op wuiwende vlaktes • Die moderne huis op die stil dorpie Rosendal het ’n lieflike uitsig oor die eindelose Vrystaatse grasvlaktes. Met houtbekleding verdwyn die enkelverdiepinggebou as’t ware naatloos in die omgewing
+ DIE VOORKOMS • Staalkaste en -rakke kombineer goed met modern én oud. Skoon lyne en kontemporêre meubels staan in kontras met die Vrystaatse vlaktes
Digby die woud • Styf ingekruip teen die Knysnawoud staan drie sjarmante kothuise met bekoorlike tuine en voëlgesang. En dekor wat ’n mengelmoes van ruitstof, blom- en plantmotiewe, fluweel en linne stylvol kombineer
+ DIE VOORKOMS • Vir plant- en blomliefhebbers is dié voorkoms maklik om te skep. Van fleurige patrone oral soos op plakpapier en strooikussings, tot veelkleurige vase as ornamente
Klip en beitel • Buite Pretoria aan die voet van die majestueuse Magaliesberge is ’n huis wat herinner aan ’n beeldhouwerk wat uit die landskap gegroei het. Die ongerepte natuur ’n bron van onmeetbare inspirasie vir die kunstenaarspaar wat hier woon en werk
+ DIE VOORKOMS • Natuur-inspirasie en ’n eklektiese versameling van kuns, meubels en items Oosters tot Marokkaans werk saam om die siel van die huis te vorm
Van ver tot hier • ’n Mooi ou plaashuis op die dorpie Philadelphia in die Swartland is liefderik gerestoureer en omskep in ’n unieke naweekhuis. Welberese loop die huis oor van erfgoed tot...